RSG Blokraaitoernooi

Die baie gewilde RSG Blokraaitoernooi is in Julie 2017 vir die tweede keer by die Vrystaat Kunstefees aangebied.

Dit was die enigste Afrikaanse kompetisie van sy soort, en het die geleentheid gebied vir woord- en taalliefhebbers om hulle kennis van Afrikaans en spoed teen ander mededingers te toets. In 2017 was daar ook vir die eerste keer terselfdertyd 'n blokraaitoernooi op RSG se webwerf beskikbaar gestel, vir mense wat nie in Bloemfontein kon wees vir die toernooi nie.


            


Die semi-finaliste saam met die XWord-span en ook prof. Angelique van Niekerk, hoof van die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, aan die Vrystaatse Universiteit. Baie geluk aan Ilse van Hemert wat vir die tweede agtereenvolgende jaar loshande die titel ingepalm het. In die 2de plek was Willie Pretorius, met Efraim van der Walt derde.


Die gedagte aan so ‘n toernooi het ontstaan by Anina Roux van XWord, ‘n maatskappy wat die afgelope meer as dertig jaar al blokraaie vir verskeie koerante, tydskrifte en webwerwe saamstel.  Nadat die XWord-span ‘n paar jaar gelede die dokumentêre rolprent Wordplay, wat oor die New York Times se jaarlikse blokkiesraaitoernooi in die VSA handel, gesien het, is begin met beplanning om iets soortgelyks in Afrikaans te doen. En in 2016 het die geleentheid uiteindelik opgeduik by die Vrystaat Kunstefees.

    

Die RSG Blokraaitoernooi was met die hulp van die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV, en deur RSG op die universiteit se kampus aangebied. Die projek was ondersteun deur die Dagbreek Trust. Tydens verskeie uitdunrondtes het deelnemers elk drie verskillende soorte blokkiesraaisels, wat deur XWord saamgestel is, moes invul.  Punte was toegeken volgens ‘n formule waar korrektheid en spoed gemeet word. Die Top Tien deelnemers het deurgedring na die semi-finaal, waarna 3 finaliste gekies was om in die Groot Eindstryd teen mekaar te staan te kom.

  

‘n Mens kon wel “oefen” vir so ‘n toernooi deur vooraf so veel as moontlik blokkiesraaisels in te vul en te probeer om dit so vinnig moontlik te doen. Waar spoed deurslaggewend is, is dit belangrik vir die invuller van ‘n blokraaisel om nie by moeilike leidrade vas te haak nie, maar om eers die makliker antwoorde in te vul. Met die ingevulde blokkies wat dan mekaar kruis, is die kans groter om ook die moeiliker antwoorde te kry.

 

* * * * * * * * * * * * * * * * * *



Blokaspaai iPad 'App' vir XWord blokraaisels

Verkies jy om ons blokraaie op jou iPad in te vul? Probeer bietjie die blokaspaai applikasie! Kliek hier… 

Copyright / Kopiereg © XWord 2012