Die XWord-span


XWord se span is 'n toegewyde groep professionele mense wat hulle werk baie geniet. Elke lid is ervare in sy of haar belangstellingsveld, het 'n uitgebreide algemene kennis, maak gebruik van betroubare verwysings en is 'n gesoute saamsteller van raaisels.




Ons Biografieë

Anina Roux

Anina Roux is 'n vryskutjoernalis en woon in Johannesburg.  Sy het byna 40 jaar se ondervinding in die saamstel van verskillende soorte blokkiesraaisels, blokraaisels en woordspeletjies, in beide Afrikaans en Engels, sowel as verskeie tipes Sudoku's. Anina se naam het oor die jare sinoniem geword met professionaliteit en met pasgemaakte raaisels wat betyds aan publikasies gelewer word.  

Die groeiende aanvraag na haar kreatiewe werk het tot gevolg gehad dat sy die besigheid moes uitbrei. So is die familiesaak XWord gebore.   Vandag bestaan XWord uit sewe mense wat  verskeie raaisels en woordspeletjies vir uiteenlopende publikasies en klante in Suid-Afrika en selfs in die buiteland saamstel en redigeer. In samewerking met haar spanlede Louise van Tonder, Albé Grobbelaar, Samantha McKendrick en Rick van Tonder is vier boeke tussen 2007 en 2009 deur XWord uitgegee, nl. Groot Afrikaanse Pretboek, Bybelblokraaiboek, Grootdruk-blokraaiboek en die Finweek Blokkiesraaiselboek. 
 

Louise van Tonder

Louise is 'n gekwalifiseerde maatskaplike werker wat al in Bloemfontein, Potchefstroom en Johannesburg gewoon en gewerk het. Tans is haar tuiste Stellenbosch waar sy haar man se argiteksfirma administreer. Sy is ook lief om naaldwerk te doen. 

Hierdie stokperdjie het tot 'n besigheid gegroei en van haar kunstige handwerkprodukte word aan toeristewinkels en wildplase verskaf. Louise is ook 'n vryskutskrywer en verskeie van haar sketse is al gepubliseer. 

Sy redigeer en stel blokraaisels, foto-blokraaisels, blokkiesraaisels en kode-raaisels in Afrikaans saam. 

 



Samantha McKendrick

Samantha McKendrick is 'n internasionale reisiger wat al in Suid-Afrika, Israel, Engeland, Wallis en Australië gebly en gewerk het.  Samantha is die span se "wiskundige brein", sy is verantwoordelik vir al die nommerraaisels soos Sudokus en Kakuros. Sy is ook verantwoordelik vir sekere Engelse raaisels soos Teikens en Kode-Blokkiesraaisels.

 

Estelle de Swardt

Blokraaisels invul was nog altyd deel van Estelle de Swardt se lewe. Op skool kon sy nie wag vir haar weeklikse Huisgenoot-genot nie. Haar eerste werk na voltooiing van haar BA Kommunikasiekunde studies, is toe hoeka by hierdie tydskrif waar sy pryse moes beding vir Huisgenoot en You se blokraaiwedstryde en weekliks die wenners trek. En ja, hulle het haar wraggies nog betaal ook! 

Toe het betrekkings by Woman's Value, Sarie en Threads & Crafts tydskrifte gevolg, waarna sy vryskutjoernalis en -taalversorger geword het. 

In 2008 sluit sy by Anina en die XWord-span aan en ondergaan sy die metamorfose van invuller na opsteller. Estelle redigeer en stel raaisels in Afrikaans en Engels saam.

                                                 

Duard Grobbelaar

As mediaman in murg en been, is Duard Grobbelaar die jongste toevoeging tot die XWord-span. Na voltooiing van sy B.A.-graad aan die Vrystaatse Universiteit, behaal hy sy nagraadse diploma in mediabestuur by die Rhodes-Universiteit in Grahamstad.  

Hy was vir drie jaar lank bestuurder van die gemeenskapsradiostasie, Kovsie FM, wat in Bloemfontein uitsaai, maar deesdae werk hy as sosiale media konsultant en blokraai-samesteller. Duard is ook verantwoordelik vir XWord se webwerf en sosiale media platforms.


Blokaspaai iPad 'App' vir XWord blokraaisels


Verkies jy om ons blokraaie op jou iPad in te vul? Probeer bietjie die blokaspaai applikasie! Kliek hier… 


Copyright / Kopiereg © XWord 2012